Google Play se diensbepalings

4 Augustus 2020

1. Inleiding

Toepaslike Bepalings. Dankie dat jy Google Play gebruik. Google Play is 'n diens wat verskaf word deur Google LLC ("Google""ons" (we) of "ons" (us) ) geleë by Amphitheatre Parkway 1600, Mountain View, Kalifornië 94043, VSA. Jou gebruik van Google Play en die programme (insluitend Android Kitsprogramme), speletjies, musiek, flieks, boeke, tydskrifte of ander digitale inhoud of dienste (waarna verwys word as "Inhoud") wat deur dit beskikbaar is, is onderworpe aan hierdie Google Play-diensbepalings en die Google-diensbepalings ("Google ToS ") (saam na verwys as die "Bepalings"). Google Play is 'n "Diens" soos in Google se diensbepalings beskryf. As Google Play se diensbepalings en Google se diensbepalings teenstrydig met mekaar is, sal Google Play se diensbepalings van krag wees.

2. Jou gebruik van Google Play

Toegang tot en Gebruik van Inhoud. Jy kan Google Play gebruik om deur Inhoud te blaai, dit op te spoor, te bekyk, te stroom, of om Inhoud vir jou mobiele toestel, rekenaar, TV, horlosie of enige ander gesteunde toestel ("Toestel") af te laai. Om Google Play te gebruik, sal jy 'n Toestel moet hê wat aan die stelsel- en versoenbaarheidvereistes vir die relevante Inhoud, werkende internettoegang en versoenbare sagteware voldoen. Die beskikbaarheid van Inhoud en kenmerke sal van land tot land verskil en al die Inhoud en kenmerke is dalk nie in jou land beskikbaar nie. Sekere Inhoud kan beskikbaar wees om met gesinslede te deel. Inhoud kan deur Google aangebied word of deur derde partye wat nie met Google geaffilieer is nie beskikbaar gemaak word. Google is nie verantwoordelik vir en onderskryf nie enige Inhoud wat deur Google Play beskikbaar gestel word wat van 'n ander bron as Google self af kom nie.

Ouderdomsbeperkings. Jy moet 'n geldige Google-rekening ("Google Rekening") hê, onderworpe aan die volgende ouderdomsbeperkings, om Google Play te gebruik. As jy as 'n minderjarige in jou land beskou word, moet jy jou ouer of wettige voog se toestemming hê om Google Play te gebruik en die Bepalings te aanvaar. Jy moet aan enige bykomende ouderdomsbeperkings wat mag geld vir die gebruik van spesifieke Inhoud of kenmerke op Google Play voldoen. Gesinsbestuurders en gesinslede moet ook aan hierdie bykomende vereistes voldoen.

Derdepartyfooie. Jy is verantwoordelik vir enige toegang- of datafooie wat by derde partye aangegaan is (soos jou internetdiensverskaffer of selfoondiensverskaffer) om Inhoud en Google Play te gebruik en te bekyk.

Opdaterings. Google Play, verwante steunbiblioteke of Inhoud moet dalk opgedateer word, byvoorbeeld vir foutoplossings, verbeterde funksies, ontbrekende inproppe en nuwe weergawes (saam "Opdaterings"). Sulke Opdaterings kan nodig wees sodat jy Google Play kan gebruik of toegang tot Inhoud kan kry, dit aflaai of gebruik. Deur in te stem tot hierdie Bepalings en deur Google Play te gebruik, stem jy in om sodanige Opdaterings outomaties te ontvang. Jy kan dalk Opdaterings aan sekere Inhoud deur Instellings in Google Play bestuur. As daar egter bepaal word dat die Opdatering 'n kritieke sekuriteitkwesbaarheid met betrekking tot die Inhoud sal regstel, kan die Opdatering gedoen word ongeag jou Opdateringinstellings in Google Play of op jou Toestel. As 'n ander programwinkel probeer om Inhoud op te dateer wat oorspronklik van Google Play afgelaai is, kan jy dalk 'n waarskuwing ontvang of sodanige opdaterings kan heeltemal gekeer word.

Inligting oor Jou. Google se privaatheidsbeleide verduidelik hoe ons jou persoonlike data hanteer en jou privaatheid beskerm wanneer jy Google Play gebruik. Google sal dalk jou persoonlike inligting, soos jou naam en e-posadres, aan Verskaffers moet voorsien sodat hulle jou transaksies kan verwerk en/of Inhoud aan jou kan lewer. Verskaffers stem in om hierdie inligting in ooreenstemming met hul privaatheidsbeleid te gebruik.

As jy deel van 'n gesinsgroep op Google Play is, sal jou gesinslede in die gesinsgroep sekere inligting oor jou kan sien. As jy die gesinsbestuurder van 'n gesinsgroep op Google Play is, sal gesinslede wat jy uitnooi om by die gesinsgroep aan te sluit, jou naam, foto en e-posadres sien. As jy as 'n gesinslid by 'n gesinsgroep aansluit, sal ander gesinslede jou naam, foto en e-posadres kan sien. Jou gesinsbestuurder kan dalk ook jou ouderdom sien, en sal 'n rekord sien van alle aankope wat jy met die aangewese gesinsbetaalmetode doen, insluitend 'n beskrywing van die Inhoud wat jy gekoop het. As Inhoud vir gesinsdeling beskikbaar is en jy deel dit met jou gesinsgroep, sal alle gesinslede toegang tot die Inhoud hê en kan sien dat jy dit gekoop het.

Ongemagtigde toegang tot rekeninge. Jy moet jou rekeningbesonderhede veilig hou en dit nie met enigiemand anders deel nie. Jy moenie enige persoonlike data, insluitend rekeningname, van enige Google Play-gebruiker of enige gebruiker van ander Google-dienste deur Google Play insamel of hou nie.

Gedeaktiveerde rekeninge. As Google in ooreenstemming met die Bepalings toegang tot jou rekening deaktiveer (byvoorbeeld as jy die Bepalings oortree), kan jy dalk verhoed word om toegang tot Google Play, jou rekeningbesonderhede of enige lêers of ander Inhoud wat in jou rekening geberg is, te kry. Sien die Hulpsentrum vir meer inligting. As jy die gesinsbestuurder van 'n gesin op Google Play is en Google deaktiveer toegang tot jou rekening, kan jou gesinslede toegang verloor tot gesinskenmerke wat 'n gesinsgroep vereis, soos 'n gesinsbetaalmetode, gesinsintekeninge of Inhoud wat deur gesinslede gedeel word. As jy 'n gesinslid van 'n gesin op Google Play is en Google deaktiveer jou rekening, sal jou gesinslede toegang tot Inhoud wat jy met hulle gedeel het, verloor.

Wanwarebeskerming. Om jou teen kwaadwillige derdeparty-sagteware, URL'e en ander sekuriteitkwessies te beskerm, kan Google inligting ontvang oor jou Toestel se netwerkverbindings, potensieel skadelike URL'e, die bedryfstelsel en programme wat deur Google Play of van ander bronne af op jou Toestel geïnstalleer is. Google kan jou waarsku as dit dink 'n program of URL is onveilig, of Google kan dit verwyder of die installering daarvan op jou Toestel blokkeer as Google weet dit is skadelik vir toestelle, data of gebruikers. Jy kan kies om sommige van hierdie beskermings in die instellings op jou Toestel te deaktiveer. Google kan dalk egter steeds inligting ontvang oor programme wat deur Google Play geïnstalleer is, en programme wat vanaf ander bronne op jou Toestel geïnstalleer is, kan dalk steeds ontleed word vir sekuriteitkwessies sonder om inligting na Google te stuur.

Android Kitsprogramme. Wanneer jy op 'n skakel op jou Toestel klik, kan Google Play nagaan of 'n toepaslike kitsprogram bestaan, en indien wel, die skakel binne die kitsprogram oopmaak. Enige kode wat benodig word om die dele van die kitsprogram waarby jy ingaan, te laat loop, sal op jou Toestel afgelaai word en tydelik daarop gehou word. Programbesonderhede vir 'n kitsprogram kan in die Google Play Winkel gevind word. Data en instellings van Android Kitsprogramme word gesinkroniseer met toestelle waarby jy met jou Google-rekening aangemeld het. Jy kan kies om Android Kitsprogramme in die instellings op jou Toestel te deaktiveer.

Veranderinge aan hierdie Bepalings. As die Bepalings verander, sal jy voorafkennisgewing van minstens 30 dae ontvang en die nuwe Bepalings sal ná sodanige kennisgewingtydperk geld. Jou voortgesette gebruik van Google Play ná sodanige kennisgewingtydperk sal aandui dat jy die nuwe Bepalings aavaar. Die nuwe Bepalings sal van toepassing wees op jou gebruik van alle Inhoud (insluitend Inhoud wat jy voorheen geïnstalleer of gekoop het) en daaropvolgende installerings of aankope. As jy nie met sodanige veranderings saamstem nie, sal jy die geleentheid kry om die Inhoud wat jy voorheen gekoop of geïnstalleer het, af te laai en jou gebruik van Google Play te beëindig. Jy mag voortgaan om daardie kopie van die Inhoud op jou Toestelle te bekyk in ooreenstemming met die jongste weergawe van die Bepalings wat jy aanvaar het.

3. Aankope en Betalings

Gratis Inhoud. Google kan jou toelaat om Inhoud gratis op Google Play af te laai, te bekyk of te gebruik. Bykomende beperkings mag op jou toegang en gebruik van sekere gratis Inhoud van toepassing wees.

Aankoop van Inhoud. Wanneer jy Inhoud koop of Google Play gebruik, sal jy, gegrond op hierdie Bepalings (soos van toepassing), 'n afsonderlike kontrak met die verkoper aangaan wat een van die volgende sal wees:

(a) Google Commerce Limited; of

(b) verskaffer van die Inhoud (die "Verskaffer"), insluitend waar Google Commerce Limited as agent vir die Verskaffer optree.

Die afsonderlike koopkontrak is bykomend tot hierdie Bepalings.

Vir verkope waar Google as 'n agent vir die Verskaffer optree, is die stelling in Google se diensbepalings dat Google se diensbepalings "nie enige derdepartybegunstigderegte skep nie", nie op jou gebruik van Google Play van toepassing nie.

Jou kontrak vir die aankoop en gebruik van Inhoud is voltooi sodra jy die e-pos van Google af ontvang het wat bevestig dat jy daardie Inhoud gekoop het, en die uitvoering van hierdie kontrak begin sodra die aankoop voltooi is.

Voorafbestellings. Wanneer jy Inhoud voorafbestel, is jou kontrak vir die aankoop en die gebruik van die item voltooi wanneer die Inhoud aan jou beskikbaar gestel word, en betaling vir die aankoop sal op daardie tydstip van jou gehef word. Jy kan jou voorafbestelling enige tyd kanselleer totdat die Inhoud vir jou beskikbaar word. Ons sal jou voorafbestelling moet kanselleer as die Inhoud deur Google Play aan verkope onttrek word voordat dit beskikbaar gestel word, en ons hou die reg voor om jou bestelling te kanselleer ingeval die prys verander voordat jou bestelling uitgevoer word.

Gesinsbetaalmetode. As jy die gesinsbestuurder van 'n gesinsgroep op Google Play is, sal daar van jou vereis word om 'n geldige gesinsbetaalmetode op te stel wat jou gesinslede kan gebruik om Inhoud op Google Play en binne programme te koop. Jy sal verantwoordelik wees vir al jou gesinslede se aankope van Inhoud met die gesinsbetaalmetode. As 'n gesinsgroep uitgevee word of 'n gesinslid verlaat die gesinsgroep, kan betaling van jou gehef word vir hangende aankope wat gesinlsede met die gesinsbetaalmetode gedoen het.

Google Payments. Om Inhoud deur Google Play te kan koop, moet jy 'n Google Payments-rekening hê en instem tot Google Payments se diensbepalings. Google Payments se privaatheidkennisgewing is van toepassing wanneer jy Inhoud met 'n Google Payments-rekening koop. Jy is verantwoordelik vir alle betaalbare bedrae wat geassosieer word met die aankope wat jy deur Google Play op jou Google Payments-rekening doen.

Ander metodes om betalings te verwerk. Google kan dalk, buite en behalwe Google Payments, verskeie betalingverwerkingsmetodes aan jou beskikbaar stel om die aankoop van Inhoud op Google Play te fasiliteer. Jy moet hou by die betrokke bepalings en voorwaardes of ander regsooreenkoms, hetsy met Google of met 'n derde party, wat jou gebruik van 'n bepaalde betalingverwerkingmetode beheer. Google kan betalingverwerkingmetodes na vrye oordeel byvoeg of verwyder. Jy is alleen verantwoordelik vir alle betaalbare bedrae wat geassosieer word met die aankope wat jy op Google Play doen.

Geskiktheid vir diensverskafferfakturering. Om jou geskiktheid te bepaal om Inhoud wat jy deur jou Toestelle gekoop het op jou netwerkverskaffer se rekening te plaas, sal ons identifiseerders van jou Toestel, bv. intekening-ID en SIM-kaartreeksnommer, aan jou netwerkdiensverskaffer stuur wanneer jy 'n Google Play-rekening op 'n Toestel skep. Om dit toe te laat, moet jy die netwerkdiensverskaffer se diensbepalings aanvaar. Die netwerkdiensverskaffer sal dalk vir ons jou faktureringadresinligting stuur. Ons sal hierdie inligting in ooreenstemming met Google se Privaatheidsbeleide en Google Payments se privaatheidkennisgewing hou en gebruik.

Pryse. Pryse en die beskikbaarheid van alle Inhoud wat deur Google Play gewys word, kan enige tyd verander voordat jy koop.

Belasting. "Belasting" beteken enige aksyns, doeanefooie, heffings of belasting (behalwe inkomstebelasting) wat geassosieer word met die verkoop van Inhoud, insluitend enige verwante boetes of rente. Jy is verantwoordelik vir enige Belasting en moet vir Inhoud betaal sonder enige aftrekkings vir Belasting. As die verkoper van die Inhoud of Google verplig word om Belastings in te vorder of te betaal, sal die Belasting van jou gehef word. Jy moet aan enige en alle toepaslike belastingwette voldoen, insluitend die verslagdoening oor en betaling van enige Belastings wat voortspruit uit jou gebruik van Google Play of die koop van Inhoud deur Google Play. Jy is daarvoor verantwoordelik om enige sulke toepaslike Belastings bekend te maak en te betaal.

Alle verkope is finaal. Sien Google Play se terugbetalingbeleid vir meer inligting oor jou regte om van die aankoop te onttrek, dit te kanselleer of dit terug te stuur vir 'n terugbetaling. Tensy dit uitdruklik in Google Play se terugbetalingbeleide of die terugbetalingbeleide van die Verskaffer uiteengesit word, is alle verkope finaal en word geen terugsendings, vervangings of terugbetalings toegelaat nie. As 'n vervanging, terugbetaling of terugsending vir enige transaksie toegestaan word, kan die transaksie omgekeer word en sal jy nie meer toegang hê tot die Inhoud wat jy deur daardie transaksie verkry het nie.

Intekeninge. Intekeninge word outomaties elke faktureringtydperk gehef (hetsy weekliks, maandeliks, jaarliks of enige ander tydperk) en betaling mag nie meer as 24 uur voor die begin van elke faktureringtydperk van jou gehef word nie.

(a) Proeflopies. Wanneer jy teen 'n prys op Inhoud inteken, kan jy dalk vir 'n spesifieke proeflopie gratis toegang tot die intekeningvoordele kry, waarna betaling van jou gehef sal word totdat jy jou intekening kanselleer. Om te vermy dat betaling van jou gehef word, moet jy voor die einde van die proeflopie kanselleer. Sodra jy jou proeflopie gekanselleer het, sal jy onmiddellik toegang tot die betrokke program en enige intekeningvoordele verloor. Toegang tot sulke proeflopies sal dalk vir elke gebruiker tot 'n sekere aantal proeflopies tydens 'n bepaalde tydperk beperk word, of ander beperkings.

(b) Kansellasies. Jy kan 'n intekening enige tyd voor die einde van 'n toepaslike faktureringtydperk kanselleer soos beskryf word in die Hulpsentrum, en die kansellasie sal vir die volgende tydperk geld. Byvoorbeeld, as jy 'n maandelikse intekening koop, mag jy daardie intekening enige tyd gedurende die maand kanselleer en die intekening sal vanaf die volgende maand gekanselleer wees. Jy sal nie 'n terugbetaling vir die huidige faktureringtydperk ontvang nie, tensy daar andersins daarvoor voorsiening gemaak word in Google Play se terugbetalingbeleid (wanneer Inhoud byvoorbeeld nie werk nie). Google Play Kiosk-intekeninge: Jy sal aanhou om Inhoud en Opdaterings (indien van toepassing) van die relevante intekening af te ontvang gedurende die oorblywende deel van die huidige faktureringtydperk. Ná daardie faktureringtydperk eindig, sal jy toegang behou tot tydskrifuitgawes wat voorheen afgelewer is, maar jou toegang tot betaalde nuusinhoud sal egter stop aan die einde van die faktureringtydperk waartydens jou intekening gekanselleer is. As jy gedurende die gratis proeflopie kanselleer, sal jy toegang behou tot die tydskrifuitgawes waarby jy gedurende 'n gratis proeflopie ingegaan het, maar jy sal nie toegang tot nuusinhoud behou nie. Google Play Musiek-intekeninge: As jy jou Google Play Musiek-intekening kanselleer, sal jy steeds vir die res van die huidige faktureringtydperk toegang hê tot Google Play Musiek-intekeninginhoud; jou toegang sal egter stop aan die einde van die faktureringtydperk waartydens jou intekening gekanselleer is. As jy jou Google Play Musiek-intekening tydens die gratis proeflopie kanselleer, sal jy nie toegang behou tot die Google Play Musiek-intekeninginhoud waartoe jy tydens jou gratis proeflopie toegang gehad het nie.

(c) Afslag vir drukintekenaars. Sommige verskaffers van tydskrifte kan jou toelaat om 'n intekening van tydskrifinhoud op Google Play te koop teen 'n verlaagde tarief as jy reeds 'n intekenaar op die gedrukte produk is. As jy jou intekening op die gedrukte weergawe van daardie tydskrif kanselleer of as dit verstryk en jy hernu dit nie, sal jou verlaagde tarief vir daardie Inhoud op Google Play outomaties gekanselleer word.

(d) Prysveranderings. Wanneer jy 'n intekening koop, sal betaling oorspronklik van jou gehef word teen die tarief wat van toepassing is op die tydstip wanneer jy die ooreenkoms aangaan om in te teken. As die prys van die intekening later verhoog, sal Google jou in kennis stel. Die verhoging sal van toepassing wees op die eerste betaling ná jy die kennisgewing ontvang het, indien jy ten minste 10 dae voor jy gehef word daarvan in kennis gestel is. As jy die kennisgewing minder as 10 dae voor die betaaldatum ontvang het, sal die prysverhoging eers ná die volgende betaling intree. As jy nie die verhoogde prys vir 'n intekening wil betaal nie, kan jy die intekening kanselleer soos in die Kansellasies-afdeling van hierdie Bepalings beskryf word, en betaling sal nie verder vir die intekening van jou gehef word nie, op voorwaarde dat jy ons voor die einde van die huidige faktureringtydperk in kennis gestel het. Waar die Verskaffer die prys van 'n intekening verhoog en toestemming vereis word, kan Google jou intekening kanselleer tensy jy tot die nuwe prys instem. As jou intekening gekanselleer word en jy besluit later om weer in te teken, sal betaling teen die intekeningbedrag wat in daardie stadium relevant is, van jou gehef word.

4. Regte en Beperkinge

Lisensie om inhoud te gebruik. Nadat jy 'n transaksie voltooi het of die toepaslike fooie vir Inhoud betaal het, sal jy die nie-eksklusiewe reg hê, slegs soos uitdruklik deur hierdie Bepalings en geassosieeerde beleide toegelaat, om kopieë van die betrokke Inhoud op jou Toestelle of soos anders deur Google as deel van die Diens gemagtig, slegs vir jou persoonlike, niekommersiële gebruik te berg, daarby in te gaan, te bekyk, te gebruik en te vertoon. Alle regte, titels en belang in Google Play en Inhoud wat nie uitdruklik aan jou toegeken is in die Bepalings nie, word voorbehou. Jou gebruik van programme en speletjies kan deur die bykomende bepalings en voorwaardes van die eindgebruikerlisensie-ooreenkoms tussen jou en die Verskaffer beheer word.

Oortreding van Lisensiebepalings. As jy enige van die Bepalings oortree, sal jou regte ingevolge hierdie lisensie onmiddellik beëindig word en kan Google jou toegang tot Google Play, die Inhoud of jou Google-rekening beëindig sonder 'n terugbetaling aan jou.

Beperkings: Jy mag nie:

Derdepartybepalings. Nieteenstaande enigiets wat teenoor hierdie Bepalings staan, is die derde partye wat hul Inhoud aan Google lisensieer bedoelde derdepartybegunstigdes ingevolge hierdie Bepalings net in die geval waar hierdie Bepalings direk verband hou met hul inhoud ("Derdepartybepalings") en net vir die doel om dit vir sodanige derde partye moontlik te maak om hul regte op sodanige Inhoud af te dwing. Om alle twyfel uit die weg te ruim: Niks in hierdie Bepalings dra 'n derdepartybegunstigdereg aan enige party oor nie, in verband met enige bepaling wat buite die Derdepartybepalings val, wat insluit maar nie beperk is nie tot enige bepalings of ooreenkomste wat deur verwysing ingesluit is, of wat na verwys kan word sonder insluiting in hierdie Bepalings.

Play-beleide. Die plasing van resensies op Google Play is onderworpe aan die volgende beleide. Klik hier as jy misbruik of enige ander inhoudoortredings wil aangee.

Inhoud wat nie werk nie. Sodra Inhoud aan jou beskikbaar is deur jou rekening, moet jy dit so gou moontlik nagaan om te verseker dat dit werk soos verwag, en ons so gou moontlik in kennis stel as jy enige foute of gebreke vind. Sien Google Play se terugbetalingbeleid vir meer inligting.

Verwydering of onbeskikbaarheid van Inhoud. Inhoud wat jy koop of installeer, sal, onderworpe aan die Bepalings, in die geval van 'n aankoop vir 'n huurtydperk, vir die tydperk wat jy gekies het, deur Google Play vir jou beskibaar wees, en in ander gevalle solank as wat Google die reg het om sodanige inhoud aan jou beskikbaar te stel. In sekere gevalle (byvoorbeeld, as Google die betrokke regte verloor, 'n diens of Inhoud gestaak word, daar kritieke sekuriteitkwessies is, of daar oortreding van toepaslike bepalings of die wet is), kan Google sekere Inhoud wat jy gekoop het van jou Toestel af verwyder of ophou om toegang daartoe aan jou te verskaf. Vir Inhoud wat deur Google Commerce Limited verkoop word, kan jy dalk voorafkennisgewing ontvang oor enige sodanige verwydering of beëindiging, waar moontlik. As jy nie voor sodanige verwydering of beëindiging 'n kopie van die Inhoud kan aflaai nie, kan Google vir jou óf (a) indien moontlik 'n vervanging van die Inhoud óf (b) 'n volle of gedeeltelike terugbetaling van die prys van die Inhoud aanbied. As Google 'n terugbetaling aan jou uitreik, sal die terugbetaling jou enigste regshulp wees.

Veelvuldige rekeninge. As jy veelvuldige Google-rekeninge met verskillende gebruikername het, kan jy in sommge gevalle Inhoud uit een rekening na 'n ander rekening oordra, mits jy die eienaar van elke sodanige rekening is en mits Google 'n kenmerk van die betrokke diens geaktiveer het wat sulke oordragte toelaat.

Beperkings op toegang tot Toestelle. Google kan dalk van tyd tot tyd beperkings plaas op die getal Toestelle of sagtewareprogramme wat jy mag gebruik om toegang tot Inhoud te kry. Besoek asseblief ons Google Play Musiek-hulpsentrum-bladsy of die gebruiksreëls vir Google Play Flieks en TV vir meer inligting oor hierdie beperkings vir Google Play Musiek of Google Play Flieks en TV.

Gevaarlike aktiwiteite. Geen van die Dienste of Inhoud is bedoel om gebruik te word in die bedryf van kernfasiliteite, lewensondersteuningstelsels, noodkommunikasiestelsels, lugvaartnavigasie of -kommunikasiestelsels, lugverkeerbeheerstelsels of enige ander sulke aktiwiteite waar die mislukking van die Dienste of Inhoud tot dood, persoonlike besering of ernstige fisieke of omgewingskade kan lei nie.

Google Play Flieks en TV. Vir bykomende besonderhede en beperkings oor jou toegang tot en gebruik van Google Play Flieks en TV, sien die gebruiksreëls vir Google Play Flieks en TV.

Google Play Musiek

Google Play maak dit vir jou moontlik om deur 'n verskeidenheid digitale musiek en musiekverwante inhoud, soos musieklêers, musiekvideolêers, voorskoue, grepe, kunstenaarinligting, gebruikerresensies, professionele musiekresensies van derde partye en ander digitale inhoud ("Musiekprodukte") te blaai en dit te voorbeskou, te stroom, te koop, af te laai, aan te beveel en te gebruik.

Gebergde inhoud. Jy kan Google Play gebruik om digitale inhoud (soos musieklêers, verwante metadata en albumkuns) in Musiekberging te berg deur die Musieksagteware, soos elkeen hieronder in ("Gebergde Inhoud") gedefinieer word. Om alle twyfel uit die weg te ruim: "Musiekprodukte" sluit nie Gebergde Inhoud in nie. Gebergde inhoud kan sowel lêers wat jy direk na Musiekberging oplaai as lêers wat Google "skandeer en pas" by lêers wat plaaslik op jou Toestel geberg word, insluit.

Musieksluitkasdienste. Google Play kan dalk vir jou toegang gee tot (a) bedienerspasie wat jy kan gebruik om musiek en geassosieerde datalêers te berg, insluitend Musiekprodukte en Gebergde Inhoud ("Musiekberging") of (b) sagtewareprogramme (insluitend web-, rekenaar- en mobiele programme) en verwante dienste wat jou in staat stel om musiek deur Musiekberging ("Musieksagteware") op te laai, te bestuur, daarby in te gaan en dit te speel. Musiekberging en Musieksagteware word in hierdie bepalings saam na verwys as die "Musieksluitkasdiens".

Gebruik van Musieksluitkasdienste. Deur Musiekprodukte en Gebergde Inhoud in Musiekberging te stoor, berg jy 'n unieke kopie van sodanige Inhoud en versoek jy Google om dit namens jou te behou en dit vir jou deur jou rekening op Google Play toeganklik te maak. Deur die Musieksluitkasdiens te gebruik, versoek jy dat Google al die noodsaaklike funksies en kenmerke van die Musieksluitkasdiens aan jou beskikbaar stel om jou gebruik van Musiekprodukte en Gebergde Inhoud te fasiliteer. Jy verstaan dat Google, wanneer dit die vereiste tegniese stappe volgens jou opdrag uitvoer om die Musieksluitkasdienste aan jou te voorsien, (a) Musiekprodukte en Gebergde Inhoud oor verskeie netwerke en in verskeie media kan versend en (b) sodanige veranderings aan Musiekprodukte en Gebergde Inhoud kan maak wat nodig is om met die formaat van die tegniese vereistes van gekoppelde netwerke, toestelle, dienste en media ooreen te stem en daarby aan te pas. Jy bevestig en waarborg aan Google dat jy die nodige regte het om enige Gebergde Inhoud in Musiekberging te stoor en dat jy Google opdrag gee om in Musiekberging te stoor en daarheen op te laai, en dat jy Google opdrag gee om die handelinge wat in hierdie afdeling beskryf word, uit te voer.

Ander Google-intekeningdienste. Jou gebruik van Google Play en enige Google Play-musiekintekeningproduk word deur hierdie Bepalings alleen beheer en nie die bepalings van enige ander Google-produk nie, insluitend enige ander Google-produk waardeur jy toegang tot 'n Google Play-musiekintekening gekry het.

Google Play Kiosk.

Inligting wat Google met Tydskrifuitgewers deel. As jy 'n tydskryfintekening vir enige tydperk op Google Play koop, kan Google dalk jou naam, e-posadres, posadres en unieke identifiseerder met die tydskrif se uitgewer deel. As 'n intekenaar op die tydskrif, sal Google dalk ook jou leesgeskiedenis binne die tydskrif met die uitgewer van daardie tydskrif deel. Google het met die tydskrifuitgewer ooreengekom dat die tyskrifuitgewer hierdie inligting in ooreenstemming met die uitgewer se privaatheidsbeleid sal gebruik. Jy sal die geleentheid kry om intekening te weier op enige kommunikasie van die uitgewer af wat nie verband hou met die intekening wat jy koop nie, en om intekening te weier op bemarkingskommunikasie deur derdepartye. As jy 'n enkele uitgawe van 'n tydskrif op Google Play koop, kan Google jou poskode aan die tydskrif se uitgewer verskaf. Ons verskaf ook verkoopsinligting oor tydskrifaankope aan tydskrifuitgewers.

Verifikasie van Drukintekeninge. As jy toegang tot 'n intekening op Google Play Kiosk deur 'n bestaande drukintekening van daardie tydskrif se uitgewer kry, kan ons 'n derdepartydiensverskaffer versoek om jou drukintekening met die tydskrif se uitgewer te verifieer. Ons kan jou dalk vra vir sekere inligting met betrekking tot jou drukintekening om dit te kan doen. Google sal hierdie inligting in ooreenstemming met Google se privaatheidsbeleid gebruik.